Sterre-nag

 

IMG_1791 copy

Ek wil weer een aand op my rug gaan lê en staar na die melkweg. Ek wil op sy blink baan gly, verby Orion, tot ek moet vasgryp aan die Suiderkruis om te keer dat ek afval en verdwyn in die donkerte onderkant die horison.

Maar eers moet die maan gaan slaap, want sy blink lyfie gaan die Sewe Konings se liggies dof maak en my partytjie verfonkfaai.

Jare gelede het ons op soel somersaande gereeld op Gouda se groot stoeptrappe gekuier en kyk hoe die son in al sy kleureprag agter die horison wegsak en die aandster stil-stil bokant die horison verskyn. Later, wanneer die aandskemerte sy blinkswart sterrekombers stadig oor ons trek en knus om ons toevou, het Pa sy pyp gestop en saam met ons op die gras gaan lê. Dan het hy vir ons sterlyne getrek, doer van die Sewe Konings af, al langs Mars se neweltuinpaadjie en met ‘n boog deur die Suiderkruis. Terwyl Pa behaaglik aan sy pyp suig, het hy die lyne aanmekaar geknoop en met ‘n swierige swaai van sy arm opgehang aan Orion se swaard.

Ek het bang-bang gewonder of daar iemand skuil daarbo wat afkyk na wat Pa doen? Kon hulle sy pyp sien gloei doer uit hulle sterrevensters?

Party aande was daar verskietende sterre, verdwaalde komete en flikkerende satelliete vir spesiale effekte. Aangevuur deur Pa se wolhaarstories oor ruimtebesoekers en vreemde wesens kon hulle my wegvoer vir nog ‘n dolle vaart op my melkweg glybaan met al sy sterrewolkies.

Pa se stories is jare lank al stil en ek moes my eie begin bymekaarmaak. Stories van die vreemde sterrehemel noord van die Poolsirkel, Halley se komeet wat vroegoggend helder skyn oor die vlaktes van suid-Namibië, ‘n paar verdwaalde sterre deur die bomekoepel van ‘n boskamp iewers in suid-Angola en die Suiderkruis wat weerkaats in ‘n Outback billabong.

My eie sterlyne…

So, ek nooi jou om weer een aand saam onder my blinkswart sterrekombers te kom lê. As jy stil lê, hoor jy dalk Pa se stem en sien hom waar hy weer my kleintyd sterlyne trek. Al is hy nou nie meer daar nie, knipoog hy dalk vir ons daar neffens die Drie Susters.

Dan kan ons nog ‘n rukkie stil lê, tot ‘n verskietende ster sy blink streep oor die sterspikkels trek en stil verdwyn in die donkerte anderkant die horison. Miskien is daar vanaand iemand spesiaal wat saam met jou ‘n wens kan wens en ‘n paar nuwe sterlyne wil trek. ‘n Handvol lyne wat julle saam kan vasknoop en ophang aan Orion se swaard terwyl Coenie saggies van sy “Karoo-nag” in die agtergrond sing.

“As die tweeling en die kreef kotteljons oor Beaufort-Wes
en die maan sy beker skink oor Graaff-Reinet”

Dankie Pa vir my mooi, blink sterlyne en hulle saamloop, grootoog stories. Dis blink lyne wat ek nou en dan kan afhaal, afstof en met die swaai van ‘n arm weer kan trek oor die blinkswart sterrekombers hoog daar bo.

20507252_10155623663663804_6405519678393152081_o copy

5 thoughts on “Sterre-nag

Add yours

  1. Ek het nou behoorlik heimwee. Onthou goed ons kleintyd se lê op die strand terwyl pa staan en visvang. Saam met moeks. Dan probeer ons so in ons domheid die hemelruim ‘plaas’. Jy het goeie herinneringe.

    Like

Leave a comment

Blog at WordPress.com.

Up ↑